Wednesday, September 23, 2015

om te verlang

aan die einde
is daar altyd iets wat binne ophou asem haal
jou storie op my lyf geskryf
jou mond oor en oor herhaal
en ek soek jou vergeefs
waar jy in die gange van my hart ronddwaal
want dis lankal nie meer jy nie
net my eie onthou:
prentjies van gister
gedagtes van my en jou

en selfs al laat ek jou gaan
en hou op om jou heeltyd te verwag
sal ek nie kan vergeet van jou hande
onthou my ore self jou lag
sal my lyf jou nog verlang
en die seer my hart verteer

miskien more mis ek jou minder
maar vandag mis ek jou meer

Friday, July 31, 2015

jammer



ek wou nog vir jou sê
ek wou nog vir ‘n ruk langs jou sit en met jou praat
miskien selfs aan jou vat
ek wou nog vir jou sê
maar toe ek daar kom was dit te laat
en jy was te vêr af in die pad
vir omdraai en luister
en miskien was ons altwee te kwaad
en te seer van al die weer probeer
en moeg vir die verwyt en die verwoes
en van al die woorde wat die mooi verteer
alles was te gou verby 
en toe word die nagte te lank
en die dae langer
en die oomblik vir ewig verlore

maar ek wou nog vir jou sê
ek's jammer