Tuesday, November 15, 2011

gee


gee vir my 'n oomblik van jou vlees
net 'n sug in die nag
sodat ek die lyne van jou lyf kan lees
gee vir my jou dag
laat my jou son 'n rukkie leen
sodat ek my pad terug kan kry
want ek en die donker is een
gee vir my al die hoekies van jou siel
laat ek in jou seer verdwaal
sodat al jou skerp kante my hart verniel
want van alles wat ek ooit sal kan kry
is daar net een wat regtig saakmaak
die een is altyd jy

 

Friday, November 4, 2011

huis


daar is 'n plek waar my hart stil kan wees
'n plek waar jy die grond kan ruik as dit reën
en snags jou stories in die sterre lees
daar is 'n plek waar jy nog uit jou maag uit kan lag
waar mense nog bid en glo en hoop
en lewe van dag tot dag
daar is 'n plek waar my siel bedaar
en as jy wil, dan kry ek jou daar




Thursday, October 27, 2011

vergeet


ek onthou nog die plek en die reuk van jou sweet
maar in my onthou het ek jou naam vergeet
ek onthou die wind en die smaak in my mond
die honger in jou oë soos 'n wegloop hond
ek onthou die niks wat jy was en die niks wat jy is
 wat gestalte vind in die niks wat ek voel en die niks wat ek mis


en soos elke stukkie van jou onthou al minder verskyn
sal die gevoel van jou hande op my nek
jou oë, die smaak in my mond en die plek
ook eendag in die niet in verdwyn





Friday, September 23, 2011

omdraai




daar was liefde in 'n vreemde land
gelato, pizza en skelm vry
en vir jou sou ek my siel verpand
as dit kon beteken dat jy sou bly 

Monday, September 12, 2011

onskuld

die onskuld het my lankal reeds verloor
êrens tussen rooiwyn, waansin en die nag
dit lê langs die skerwe van my drome
toegevou in die weerloosheid van my lag

maar as die son jou skaduwee so oor my gooi
en jou lyf my van alle redelikheid beroof
begin ek weer aan die onskuldige liefde glo
wat my hart steeds roekeloos aan my lyf beloof

Wednesday, August 31, 2011

verdwaal

ek weet jy is nog hier iewers
jou spore nog plek-plek in die sand
jou reuk speel in die wind
jou herhinderinge toegevou in my hand
jou stem eggo deur die bome
jou glimag loop uit in my skryf
ek weet jy's nog hier iewers
in die laning van my lyf

Thursday, August 25, 2011

die groot vraag

as jy my binnekant kon ken;
sou jy 'n rukkie kon sit in my donker?
as ek jou al my geheime vertel
sou jy nog oor my misterie kon wonder?
as jy al my gedagtes kon hoor
sou jy nog wou hê ek moes bly?
as jy geweet het van al die seer
sou jy nog lief kon wees vir my?

Thursday, August 18, 2011

afdraaipad

aan die einde wanneer al my paaie klaar geloop is
en prentjies al wat oor is van onthou
sal my hart steeds na jou oë verlang; 
sal ek kaalvoet my laaste afdraaipad loop tot by jou