Friday, October 12, 2012

stukkend



 
as die stemme vir 'n oomblik stil raak
en die onsekerheid my lyf verlaat
sal my oë vir eens my hart verraai
mag jy dalk verstaan;
ek is te stukkend om om te draai

Friday, October 5, 2012

volkleur

 

jy is my wanhoop
die donker wat my hart verteer
maar as ek van jou droom
dan droom ek in volkleur

jy is my pyn
die geraas wat my rus versteur
maar as ek van jou droom
dan droom ek in volkleur

jy is my waansin
die passie wat my lyf beheer
maar as ek van jou droom
dan droom ek in volkleur

Friday, June 22, 2012

onthou



ek onthou nog jou lag
en jou oë se mid-oggend blou
ek onthou nog hoe jou woorde
saam met jou hande
om my lyf kon vou
ek onthou jy was alles wat ek wou hê
kaggelvure en rooiwyn
en Sondag oggend inlê
maar
deur al die onthou is daar egter net een ding
wat ek verseker kan weet
jy het my lank gelede reeds
heeltemal
vergeet

Friday, February 24, 2012

daar was 'n tyd


daar was 'n tyd
die dae was roekeloos lank
en ek kon vir ure in die son en in jou arms lê
terwyl jy jou stories op my lyf uitskryf
het ek elke woord geglo wat jy sê

daar was 'n tyd
die dae was roekeloos lank
niks anders het bestaan vir my
die sout op jou lyf was my kos en my drank
my drome, my hoop en my asem was jy

en as die seewind nou so oor my waai
proe ek weer die sout op jou vel
is ek nog die muse in die stories wat jy vertel
onthou ek elke woord wat steeds êrens in my hart rondhang
is dit lang roekelose dae waarna ek verlang

Wednesday, February 1, 2012

verlore


ek soek jou onder Stellenbosch se bome,
op Jesolo se strand
en in die hoeke van my drome

ek wag vir jou êrens in Hatfield in 'n bar
terwyl ek Jack op ys drink
en na vreemde girls met groot oorbelle staar

ek hoop om jou te kry
in die voetspore op Heroldsbaai
in die koue sand en in 'n lekker vry

maar die naaste wat ek aan jou kan kom
is die donker kolle agter my ooglede
as ek staar na die son