Friday, April 11, 2014

lewe

rook my laaste sigaret in die oggend reën
my mondhoeke met rooiwyn gevlek
ek ruik nog jou lyf, maar ek is weer alleen
niks wat werk nie, maar alles perfek
en ek weet nog steeds nie wat liefde is nie
maar jou oë kyk dwarsdeur my
en ek weet nog steeds nie presies wat dit is wat ek van jou mis nie
maar as jy loop wil ek hê jy moet bly
en ek weet dit is 'n duisend keer verkeerd
maar ek het nodig om vir een laaste keer asem te haal
en hopelik sal ek myself kan vergewe
want ek weet ek gaan in jou waansin verdwaal
en jy gaan vir ewig binne my lewe



Friday, October 11, 2013

weg


alles is skielik leeg
elke ruimte wat jy gevul het
elke herhindering waarin jy beweeg
jy sit vas in my onthou
jou lag; jou hande; jou oë
jou sleepvoet loop
jou blinde glo
ek praat nog met jou
maar ons praat nie met mekaar nie
en ek voel jou êrens naby
maar jy is nie meer daar nie
en miskien eendag as die geraas bedaar
en ons die donker met lig omvou
sal die leegte verdwyn
sal ek jou vir ewig by my kan hou
vir nelis.


Thursday, March 14, 2013

hoop

die verlede sal jou wel eendag weer kom haal
dis die prentjies van onhou
wat seker maak jy bly betaal
vir jou foute en jou skel en jou weer geval
en dit maak nie saak hoe ver weg jy loop
die goeie stukkies van jou siel
bly steeds uitverkoop
 
maar daar's 'n plek in my hart waar net jy mag gaan
'n stilword plek  
waar daar nog hoop bestaan
en miskien as die verlede my weer kom haal
sal my siel vir oulaas vir twee betaal
 
 


Thursday, January 31, 2013

mooi


al is ons lankal reeds dood
is al wat ek onthou
die mooi van jou

Friday, October 12, 2012

stukkend



 
as die stemme vir 'n oomblik stil raak
en die onsekerheid my lyf verlaat
sal my oë vir eens my hart verraai
mag jy dalk verstaan;
ek is te stukkend om om te draai

Friday, October 5, 2012

volkleur

 

jy is my wanhoop
die donker wat my hart verteer
maar as ek van jou droom
dan droom ek in volkleur

jy is my pyn
die geraas wat my rus versteur
maar as ek van jou droom
dan droom ek in volkleur

jy is my waansin
die passie wat my lyf beheer
maar as ek van jou droom
dan droom ek in volkleur

Friday, June 22, 2012

onthou



ek onthou nog jou lag
en jou oë se mid-oggend blou
ek onthou nog hoe jou woorde
saam met jou hande
om my lyf kon vou
ek onthou jy was alles wat ek wou hê
kaggelvure en rooiwyn
en Sondag oggend inlê
maar
deur al die onthou is daar egter net een ding
wat ek verseker kan weet
jy het my lank gelede reeds
heeltemal
vergeet