Friday, October 5, 2012

volkleur

 

jy is my wanhoop
die donker wat my hart verteer
maar as ek van jou droom
dan droom ek in volkleur

jy is my pyn
die geraas wat my rus versteur
maar as ek van jou droom
dan droom ek in volkleur

jy is my waansin
die passie wat my lyf beheer
maar as ek van jou droom
dan droom ek in volkleur

Friday, June 22, 2012

onthou



ek onthou nog jou lag
en jou oë se mid-oggend blou
ek onthou nog hoe jou woorde
saam met jou hande
om my lyf kon vou
ek onthou jy was alles wat ek wou hê
kaggelvure en rooiwyn
en Sondag oggend inlê
maar
deur al die onthou is daar egter net een ding
wat ek verseker kan weet
jy het my lank gelede reeds
heeltemal
vergeet

Friday, February 24, 2012

daar was 'n tyd


daar was 'n tyd
die dae was roekeloos lank
en ek kon vir ure in die son en in jou arms lê
terwyl jy jou stories op my lyf uitskryf
het ek elke woord geglo wat jy sê

daar was 'n tyd
die dae was roekeloos lank
niks anders het bestaan vir my
die sout op jou lyf was my kos en my drank
my drome, my hoop en my asem was jy

en as die seewind nou so oor my waai
proe ek weer die sout op jou vel
is ek nog die muse in die stories wat jy vertel
onthou ek elke woord wat steeds êrens in my hart rondhang
is dit lang roekelose dae waarna ek verlang

Wednesday, February 1, 2012

verlore


ek soek jou onder Stellenbosch se bome,
op Jesolo se strand
en in die hoeke van my drome

ek wag vir jou êrens in Hatfield in 'n bar
terwyl ek Jack op ys drink
en na vreemde girls met groot oorbelle staar

ek hoop om jou te kry
in die voetspore op Heroldsbaai
in die koue sand en in 'n lekker vry

maar die naaste wat ek aan jou kan kom
is die donker kolle agter my ooglede
as ek staar na die son


Tuesday, November 15, 2011

gee


gee vir my 'n oomblik van jou vlees
net 'n sug in die nag
sodat ek die lyne van jou lyf kan lees
gee vir my jou dag
laat my jou son 'n rukkie leen
sodat ek my pad terug kan kry
want ek en die donker is een
gee vir my al die hoekies van jou siel
laat ek in jou seer verdwaal
sodat al jou skerp kante my hart verniel
want van alles wat ek ooit sal kan kry
is daar net een wat regtig saakmaak
die een is altyd jy

 

Friday, November 4, 2011

huis


daar is 'n plek waar my hart stil kan wees
'n plek waar jy die grond kan ruik as dit reën
en snags jou stories in die sterre lees
daar is 'n plek waar jy nog uit jou maag uit kan lag
waar mense nog bid en glo en hoop
en lewe van dag tot dag
daar is 'n plek waar my siel bedaar
en as jy wil, dan kry ek jou daar




Thursday, October 27, 2011

vergeet


ek onthou nog die plek en die reuk van jou sweet
maar in my onthou het ek jou naam vergeet
ek onthou die wind en die smaak in my mond
die honger in jou oë soos 'n wegloop hond
ek onthou die niks wat jy was en die niks wat jy is
 wat gestalte vind in die niks wat ek voel en die niks wat ek mis


en soos elke stukkie van jou onthou al minder verskyn
sal die gevoel van jou hande op my nek
jou oë, die smaak in my mond en die plek
ook eendag in die niet in verdwyn